Week 1 - Ek is 'n pappa van 'n dogtertjie, wat nou?

 Welkom by Week 1!



Voordat ek by die “wat nou” kom wil ek eers so bietjie terug gaan en julle meer vertel van hoe ek tot hier gekom het.

 

Ek is gebore as die jongste van drie kinders. Twee ouer sussies – heelwat ouer. Saam met my Ma en….wel – vir die lack of a better word – ‘n Pa. Gaan julle nie verveel met die stories oor my sussies nie – dis ‘n ander boek se storie. Ook nie veel oor my dierbare moeder nie – al wat ek kan sê – ‘n Goeie, hardwerkende mens wat haar rug krom gewerk het om kos op die tafel te kry, klere aan ons lywe en alles anders wat nodig was. Nodig. Dit wat BROODNODIG was, want daar was nie veel meer nie. Dan my pa…wil hom ook nou nie te veel airtime gee nie, maar dis belangrik dat ek hierdie deel.

Engelsman. Nie afwesig nie, maar nooit daar nie want die bottel was vir hom so ietwat belangriker as verantwoordelikhede en om ‘n voorbeeld te wees. Dus - ‘n abusive alcoholic met ‘n groot liefde vir gamble. Kaarte, perde, sokker – you name it­ en hy wed daarop. Ten koste van my ma, ons huis, ons kinders en alles daarmee saam. Ek het geweet – Ek wil nie so wees nie – want teen die tyd dat my ma hom geskei het het hy letterlik niks gehad nie. Nie materiële goed nie, nie ‘n familie nie, nie ‘n stukkie hoop nie – but that was the price he paid. Soos ek sê – ek wou nie so wees nie.

Studentelewe het gekom en gegaan en toe die werkliheid van die “grootmens”-wêreld. ‘n Dood normale bestaan. ietwat vervelig….tot ek my vrou ontmoet het. ‘n Omwenteling, ‘n skanieroomblik in my lewe. Getroud en woeps-waps – ons verwag ons eerste kind!

Die nuus was wonderlik en een van die hoogste hoogtepunte in my lewe. Die lewe kon nie beter wees nie en die journey van 9 maande was ‘n geseënde een, ‘n opwindende een en een waar alles net mooi in plek geval het. En toe is sy gebore.

Nou almal weet elke ma (of pa) dink haar bondeltjie pienk kreukels is die mooiste ding in die wêreld. As ek egter nou terug kyk na die foto’s wonder ek hoe ons haar daai eerste paar maande in die openbaar gewys het want sy – wel – sy was wraggies nie die mooiste gevreetjie nie. Ten minste het tyd haar ggoed gedoen en kan ek haar vandag met trots vir die wêreld wys. Sy is beautiful…Les nommer 1 – Maak nie saak hoe liefie kind lyk nie – prinses mooi of Shrek se Fiona – maak altyd seker dat sy weet jy dink sy is die mooiste skepsel wat jy al ooit onder oë gehad het – Laat haar altyd goed voel oor haarself! Bou op en laat die mooi van binne uit haar uitloop.

Maar met die geboorte en die eerste keer wat ek haar vashou kom die groot besef – ek is die pa van ‘n dogtertjie – Wat nou? Ek het nie eens ‘n goeie track record gehad met honde nie!  My eerste hond – Wollie - was skaars ‘n jaar oud toe word hy getrap, Basjan het net gevrek, en Beertjie – tot vandag toe weet ek nie wat van Beertjie geword nie. Ek kon nie ‘n hond aan die lewe hou nie – wat maak ek met ‘n kind?

Tog leer jy baie vinnig. Les nommer 2 – Moenie jou kind uit ‘n boek uit groot maak nie! Elke kind het sy eie persoonlikheid, wil en geaardheid. Daar is nie ‘n one-size-fits-all oplossing nie. As jy pocorn in ‘n pot gooi met olie word al die pitte aan dieselfde omstandighede blootgestel maar elke pit ont-pop op sy eie tyd en het sy eie unieke vorm.

Kinders is nie popcorn nie – al spring hul soos mal goed rond na ‘n oormatige inname van suiker – maar beslis nie popcorn nie!

Die eerste paar weke en maande was interessant, uitdagend en uitputtend. Meeste van die tyd is opgeneem deur slaapsessies, winde uitvryf, doeke omruil en bad. Dit was egter ook belangrik om mamma in hierdie tyd te ondersteun…saam opstaan in die middel van die nag as sy borsvoed, help bottels maak, help kos maak, help waar ookal jy kan. Ons het ‘n ritme gevind. As jy ‘n bridezilla ken – wel in die tyd raak jy ietwat ‘n daddyzilla. Die DIY tools word uitgeruk en alles word child safe gemaak, jy maak seker al wat ‘n deur wat ‘n trap het, is toe. Niemand mag aan baba raak nie, gooi poeier tot verstikkens toe en pak meer as genoeg (of eerder te veel) in, al ry jy net tot by die stopstraat onder in die straat. En jy gloei want hierdie skepsel is joune!

Maar die worsteling kom dan – hoe gaan jy ‘n goeie pa wees? Gaan jou kind ‘n toekoms hê? Hoe maak jy nie dieselfde foute van die verlede, van vorige geslagte nie. Hoe maak jy seker jy is ‘n pa wat ‘n PA is. Ek voel afgeskeep want baba en mamma is onafskeidbaar. Kriewelrig. Krapperig. Bang. Bekommerd. Soos die dae omgaan voel jy iets wat jy nie ken nie, nie weet hoe om te verwoord nie. Weet nie hoe om te sê jy voel nie, want die gevoel is onbekend en oorweldigend. Dan sit jy een aand voor die tv terwyl baba op mamma se skoot lê en bottel drink en ‘n absolute vrede oorval jou…en jy weet alles gaan okay wees. Les nommer 3 - Wees net die beste jy. Lê die fondasie reg, stel die reëls vas en laat die legkaart stukkies een vir een by mekaar inskakel en as jy ‘n bietjie terugstaan en na die prentjie kyk wat vorm dan sien jy iets moois vorm. Dan vergeet jy van Wollie en Basjan en Beertjie en elke troeteldier wat jy langs die pad verloor het en jy fokus net eenvoudig om hierdie kosbare bondeltjie vreugde groot te maak. Sy is kosbaar, verander jou lewe en bring kleur aan ‘n saai, soms vervelige bestaan.

Les 4 – Leef in elke oomblik. Tyd is kosbaar en voor jy jou oë uitvee is hul groot en dan is alles net vae herinneringe. Vang soveel as moontlik van die gebeure vas – jy gaan dit nooit op jou eie kan onthou nie. Post jou foto’s op Facebook (of waarookal) – as mense dit nie wil sien nie – dan kan hulle mos verby scroll! Jy gaan die oomblikke waardeer as al daai mooi memories terugkom as ‘n terugblik – dit help jou onthou, help jou waardeer. Skryf die mylpale neer sodat jy dit eendag kan deel en moet nooit ooit toelaat dat sy voel jy is te besig vir haar nie. Wees net daar. Wees net teenwoordig - AL is dit hoe moeilik – wees daar en WEES!

 

Volgende week se onderwerp is - Die tweede slaggat – wat weet ek nou eintlik van ‘n dogtertjie af? Onthou om die page te follow en as jy waarde vind in dit wat hier gedeel word – share asb die link met soveel as moontlik mense – kom ons wend ‘n spanpoging aan om ons toekoms, ons kinders – te stig en op te bou.

 

Dad Joke vir die week: Why did the man bring his watch to the bank? He wanted to save time.

Tot volgende week.

Comments

Popular posts from this blog

What needs to be done?

Week 2 - Die tweede slaggat - wat weet ek nou eintlik van 'n dogtertjie af?