Week 4 - Is jy die Koning of is sy die Prinses?

 


Week 4: Is jy die Koning of is sy die Prinses?

 

Kyk – van ‘n Disney prinses gaan jy my niks vertel nie. Ek ken hulle elkeen se storie, ek ken hulle untold story, ek ken hulle back story….ek ken hulle storie se storie! Daar is nou nie rerig enige prinses uit die stories wat my werklik interesseer nie, want hulle is almal – wel – almal ‘n bietjie prinsesserig! Maar as ek nou een, of twee, moet uitsonder sal dit Tangled se Rapunzel wees en Merida van Brave. Ek weet nie wat dit is nie, maar daar is iets besonders aan die twee karakters, iets wat ek hoop iewers in my eie prinsesse vasgevang is.

So – asof een bondeltjie prinses vreugde nie genoeg was vir ons nie en die wroeging van hoe om ‘n dogtertjie groot te maak nie genoeg gespook het nie – word ons gebless met ‘n tweede bondeltjie prinses vreugde. Ek moet erken – die spoke het op hierdie stadium heelwat minder gespook en ek dink ek het die handle hierop gehad. Steeds baie vrae, maar dit was beslis makliker. Wat ek egter tot vandag toe nie verstaan nie, is - hoe is dit moontlik dat twee skepsels wat in dieselfde huis groot word, onder dieselfde omstandighede, met dieselfde blootstellings – se persoonlikhede so drasties kan veskil? Dag en nag! Die oudste ‘n mini me – en die jongste ‘n mini-mamma!

Ek moet hier bieg – beide my kinders het op ‘n baie jong ouderdom op hulle koppe geval…een het met ‘n loopring by die kombuisdeur uit geblik….uitgeval en die ander in ‘n moment of total absent mindedness – uit ‘n karstoeltjie uit. En tot vandag toe glo ek dit is waar hul hardkoppigheid vandaan kom – but let bygones be bygones. Dit verduidelik nie die teenstrydigheid waarmee ons moes cope nie.

Een aanvaar stilte, kalmte, logika en orde en die ander – wel – alles behalwe. En alles word ge-question. Gee jy nie antwoord wat sy wil hê jy moet gee nie – ontaard elke vraag in ‘n nasionale debat – wat ek natuurlik nooit kon wen nie. So ek het geleer om sekere dinge net in stilte laat vaar. Ek het mos gesê – elke dag is ‘n leer dag!

Maar twee uitlopende personlikhede of te not – ek sou nie my lewe anders wou hê nie en ek kan met alle eerlikheid sê – ek is nog altyd dankbaar my bekertjie loop oor! So worstel jy met ‘n innerlike stryd van hoe rus jy hierdie twee prinsesse toe om warrior prinsesse te wees wat weet hoe om op te staan vir wat reg is, hulle eie stempel af te druk op die lewe, nie toe te laat dat ander hulle minag nie en ‘n boldness te hê wat jou in verwondering laat? Ons het baie vir ons kinders gelees….maar die belangrikste boek wat ons seker oopgemaak het in ons huis is die heilige woord van ons Skepper…en dit het ‘n gids geword, ‘n vaste fondasie, ‘n hoop en ‘n dankbare bron van insig, wysheid en begrip.

Tog word jou prinses in die wêreld groot en kan al die blootstelling aan wêreldse dinge, wêreldse reëls en wêreldse standaarde jou prinses verander, wegvreet en verslind en kan maak dat al hulle magic verdwyn. Jy as Koning van die huis moet daardie orde handhaaf en as die wêreld bietjie druk – het jy ‘n plig om haar kroon of op te tel en terug te sit of om hom net weer bietjie reg te skuif, want as jy haar gaan los om haar prinseskroon te veruil vir ‘n wêreldse kroon – dan is ek jammer om te sê – dan gaan jy die dienaar word en sy die ruler.

Makliker gesê as gedaan want met die invloed van tegnologie, groepsdruk, televisie en ander media gaan jy as koning van jou huis BAIE sterk moet staan. Soms man-alleen – maar ons het mos daaroor gepraat. Hier is wat jy DOEN veel belangriker as was wat jy Sê!

Ek gaan nie nou ‘n resep vir sukses gee nie – ek het nie een nie - maar wat nou gaan volg is bloot ‘n paar pointers om te help om te verseker dat jou prinses toegerus is vir die groot wêreld. Soms het hulle groot skoene om te vul en soms is hulle net eenvoudig te groot vir hulle skoene, maar dan moet jy hulle maar net weer in rope, die speelveld bietjie gelyk maak, hulle ogies weer terugrol wat hulle tot daar ver agter vir jou gerol het en die kroon weer reg op sit.

Moenie dat iemand vir jou prinses sê dat sy nie KAN nie. Sy moet haar eie grense beproef en kyk waartoe sy in staat is (dis OK om nie 'n kenner van alles te wees nie – dit is ongelukkig ‘n les wat ek nog nie vir my jongste kon leer nie!). Moenie toelaat dat iemand anders haar pad bepaal of haar afbreek nie. Daar is miljoene vroue in die wêreld aan wie gesê is dat hulle nie iets kan wees of doen nie, wat voort gegaan het en dit gedoen het of dit geword het. Laat sy een van daardie vroue wees. En dan ‘n les wat ek steeds sukkel om my twee te leer is – net omdat jy alles kan doen – beteken nie jy MOET nie.

Leer haar om vriendelik te wees. (Moeilke lessie veral as sussie nou nie eintlik ‘n oggendmens is nie!!). Leer haar om nie ander te oordeel omdat hulle anders as sy is nie. As jy dit kan bemeester kan ek jou beloof gaan sy baie battles in haar lewe lag-lag oorkom! Wees ‘n voorbeeld en leer haar om alle mense gelyk en deernisvol te behandel. Gaan uit jou pad uit om vriendelik, behulpsaam en liefdevol te wees. Daar sal tye wees wanneer sy vriendelikheid van ander nodig sal hê because it is a cruel world out there, so pay it forward.

Wees taai Prinses. Praat vir jouself. (Brawe woorde Pappa – want as poplap daai enetjie bemeester is daar geen manier wat jy TEEN haar gaan praat of argumenteer of redenaar nie!!) Leer haar - Moenie slegte gedrag, onderdrukking of teistering duld nie. Leer haar – werk hard vir wat jy wil hê – jy is geregtig op niks nie - die lewe sal jou platslaan, mislukkings is onvermydelik, maar borsel jouself af en hou aan. Volhard, my meisie.

Ek was bevoorreg om vir ongeveer al die tyd wat my kinders op skool was op skool beheerliggame te dien en die laaste paar jaar was ek in die onbenydenswaardige (is dit ‘n woord?) posisie om op die Dissiplinêrekomitee te dien. Hartverskeurend as ‘n pragtige dogter voor jou sit met oë vol potensiaal – maar wat geen respek vir haarself het nie, wat nie glo in haarself nie en wat so hard probeer om die mooi binne in haar weg te steek om die prentjie van die wêreld wat sy wil bevredig na te leef. Of dan sit hulle saam met hul ouers daar en jou hart roep uit want jy besef alles wat hierdie kind verkeerd doen is as gevlolg van die voorbeeld in die ouerhuis en as daar nie werklike verandering gaan kom nie – gaan dit die tipe ma wees wat sy gaan word en so bou ons maar aan hierdie vicious circle! Belangrike les om te leer – Prinses - werk daaraan om aan die binnekant meer "mooi" te wees as die buitekant. As 'n meisie gaan jy baie hoor van jou uiterlike skoonheid en hoe om dit te versterk. Daar is niks verkeerd om lief te wees vir skoonheidsprodukte en mooi klere nie, maar spandeer soveel energie aan jou innerlike skoonheid as wat jy aan jou uiterlike voorkoms doen. Eers wanneer jy jouself ken en liefhet, sal jy werklik mooi voel. Daai skoonheid weeg soveel meer as net ‘n mooi gesiggie!

Jy moet jouself eers liefhê. Dit begin alles met kennis, agting vir jouself. Dit is die basis van jou toekomstige verhoudings, werk, stokperdjies en avonture. En as jy ooit vergeet hoekom jy so ‘n liefde waardig is, vra my net, en ek gee jou graag 1000 redes.

Pappa’s hou nie net die kar se sleutels, garage se sleutels en elke liewe ander sleutel van die huis iewers aan ‘n bos nie – maar pa’s hou ook die sleutels tot sy dogter se vroulike identiteit, haar gevoel van eiewaarde en haar toekomstige verhoudings. Diep. Hulle sê (ai – alweer die HULLE) – maar hulle sê – as jy vlak is, is alles diep. Maar hierdie is diep sonder dat ek vlak hoef te wees – JY Pappa – hou daai belangrike sleutel, haar gevoel van eiewaarde en haar toekomstige verhoudings in jou hande. Jou bevestiging, of die gebrek daaraan, speel ‘n groot rol in elke aspek van haar lewe, selfs haar keuse van 'n huweliksmaat word daardeur beïnvloed.

Net soos mamma iewers in die huis ‘n wegsteekplekkie het vir iets spesiaals, of lekkers (?) – net so is daar ‘n plekkie in elke vrouskpesel se siel wat vir ‘n Pa gereserveer is, wat altyd sal smag na bevestiging. Elkeen is anders, maar ek dink ek kan met absolute sekerheid sê - elke meisie begeer daardie hegte band met haar Pa. Sy sal altyd so voel – behalwe as jy haar teleurstel. Sy sal – sonder dat sy dit besef - alle mans deur die lens van daardie verhouding sien. En raai wat Mamma – hierdie is een ding wat julle as mamma’s nie kan doen nie – julle kan NIE daai spasie vul nie. Mamma’s kan nie Pappa’s wees nie en Pappa’s kan nie Mamma’s wees nie.

En jammer – maar dis ‘n feit soos ‘n koei, en die wat wil klippe optel moet maar so doen – want die hartseer waarheid is – same-sex marriages is nie gesond vir kinders om in groot te word nie nog minder huise met afwesige pa’s – want jy maak jou kind met ‘n leemte groot. Gee net net ‘n oomblik – ek wil net gou van my  soapbox af klim. (Smile and Wave!) Dankie dames en here!

Angelina Jolie (Maleficent) het iets waars gesê – sy het gesê: “Evil queens are the princesses that were never saved.” Is jy dan die koning en sy jou prinses…of gaan jy toelaat dat jou dogter ‘n wêreldse prinses word sonder enige kroon of koninkryk…..Dis tough ouens, ek weet. En dit word nie makliker nie. Maar ek fail eerder en probeer harder tot ek dit amper reg kry, as wat ek net opgee sonder om te probeer. Van Disney prinsesse kan jy my niks vertel nie – maar ek is trots op my prinsesse want hulle is hulself, uniek, rulers of hearts en ek sal elke dag met trots hulle krone op hulle koppe sit. Hulle is nie Disney prinsesse nie – hulle is MY prinsesse.

 

 

Volgende week is die vra ek die vraag - Wêreldse reël of jou reëls?

Dad Joke vir die week: Did you hear about the restaurant on the moon? Great food, no atmosphere!

Tot volgende week.

 

 

Comments

  1. Dankie dat jy jou dogters so mooi groot gemaak het. Ek is baie trots op hulle en op julle as ouers.

    ReplyDelete
  2. Ek is ongelukkig bietjie agter met die "episodes" of Uitgawes ( hoe sê mens :) ? ) maar ek maak tyd om op te vang want ek geniet dit regtig , veral as ook 'n pa van 'n dogter . Moet sê , hierdie een was een van my gunstelinge !

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

What needs to be done?

Week 1 - Ek is 'n pappa van 'n dogtertjie, wat nou?

Week 2 - Die tweede slaggat - wat weet ek nou eintlik van 'n dogtertjie af?